Kontrapunt is 'n komposisietegniek wat op die melodiese selfstandigheid van die afsonderlike stemme gebaseer is; dit is die oudste vorm van meerstemmigheid wat tot op hede in die Westerse kunsmusiek in gebruik gebly het.
Veral van die 14e tot die 16e eeu het 'n hoog ontwikkelde kunsvorm (polifonie) hieruit ontstaan. Daarin word veelvuldig gebruik gemaak van die cantus firmus-tegniek (die aanwending van 'n bestaande melodie as hoofstem) en nabootsing (kanon, fuga, vrye nabootsing). Die misse en motette van Palestrina en die fugas van Bach word as die klassieke hoogtepunte van onderskeidelik die vokale en die instrumentale polifonie beskou en dien nog steeds as die uitgangspunt by die studie van kontrapunt.